Vergifnis

Vergifnis is ‘n opdrag in die Woord van God (Matt 6:14, 15; Mark 11:25, 26; Luk 6:37; Efes 4:32 en Kol 3:13). Sonder vergifnis is daar geen bevryding van die seer en pyn wat ander jou aangedoen het nie.

Die emosioneel dieperwonde persoon se letsels in die onderbewussyn sal moeilik verdwyn maar die seer daarvan kan wel genees deur die oortreder vry te spreek via vergifnis.

Dit verg soms baie geduld, tyd en gebed om die verontregte persoon te begelei tot bevryding van bitterheid, haat, onvergewensgesindheid en ingrypende emosionele ontwrigting.

DIE RAMP VAN GEBREK AAN VERGIFNIS

Gebrek aan vergewensgesindheid baar ‘n vergeldingsdrang wat die verontregte persoon totaal pre-okkupeer en op die pad na selfvernietiging laat afstuur. Om met die skuldige te wil afreken, moet ‘n mens nog laer as sy vlak daal, terwyl vergifnis jou ver bokant hom verhef. Omdat wraak nie deur God aan die mens toevertrou is nie, boomerang dit sonder uitsondering. Dit is voorwaar die nutteloosste wapen ter wêreld. Dit verwoes die wreker terwyl dit die vyand se oortreding beklemtoon en versterk. Dit lei tot ‘n afwaartse wenteltrap van wrewel en meedoënlose weerwraak, wat almal betrokke magteloos in wanhoop laat versink.

Nog ‘n uiters skadelik gevolg van gebrek aan vergewensgesindheid is ‘n groeiende haat in die binneste wat vinnig versprei en alle ander emosies besmet. Dit vreet aan die mens se siel, maak hom fisies siek; dit verander vertroue in agterdog en barmhartigheid in bytende kritiek. Korom, DIT IS SELFVERNIETIGEND.

Wanneer bitterheid gekoester word verlam dit die denke, siel en gees en versteen alle rede en emosie. Twyfel en pessimisme kry die oorhand. Bitterheid is ‘n diggeslote kringloop van herhalende, selfgesentreerde pyn wat ongelooflike hoeveelheid energie en geesteskrag verteer; terwyl dit absoluut nutteloos is.

Gebrek aan vergewensgesindheid vernietig dus menseverhoudinge, dit verbrokkel jou persoonlikheid en is strydig met die basiese waardes van enige geloofsoortuiging.

Seker die skadelikste gevolg is God se voorbehoud dat jou sonde nie vergewe word as jy nie bereid is om te vergewe nie (Matt 6:14, 15). As ons egter vergewe, aanvaar en liefhet, vergewe God daagliks ook ons oortredinge. Sy vergifnis bied ons die vryheid om kreatief te lewe en lief te hê. God se vergifnis skenk ons ook die vermoë om sewentig maal sewe keer te vergewe.

WAT IS VERGEWENSGESINDHEID?

VERGIFNIS IS ‘N PROSES WAT BEGIN IN JOU GEDAGTES, DAARNA DIE EMOSIE AKTIVEER, WAT DIE WIL MOET INSPIREER OM ‘N BESLUIT TE NEEM. DIE OOMBLIK WANNEER DIE WILBESLUIT GENEEM IS, TREE DIE VRYMAKENDE KRAG VAN God in werking. Die kind van God moet aangemoedig word tot daaglikse en onmiddellike vergifnis, dit bewaar die vrede van God in sy hart en verseker ‘n goeie gesindheid teenoor sy mendemens.

Wanneer onvoorwaardelike vergifnis ‘n leefwyse word deur ‘n voorgaade vrywillige wilsbesluit daartoe, ervaar jy ‘n innerlike vryheid en verlighting van jou gees, wat moeilik is om in woorde te omskryf. Met so ‘n bereidheid tot totale vergifnis is daar geen plek in die hart vir bitterheid nie (Heb 12:15).

Om iemand waarlik te vergewe impliseer dat sy “record” by jou skoon is en dat die verantwoordelikheid vir straf op die oortreding aan God oorgelaat word. Vergifnis maak dit vir albei partye moontik om dieselfde openheid teenoor mekaar te hê nadat die een verontreg was, as wat daar tussen hulle was, voordat die een teen die ander oortree het.

Volkome vergifnis bewerk dus ‘n eerlike versoening met en onvoorwaardelike aanvaarding van die oortreder – dit vereis twee mense wat mekaar vrywillig onmoet in vernuwende berou en verlossing. Dit vra selfverloëning en opoffering ter wille van ‘n herstelde verhouding.

Egte vergifnis is die onderlinge erkenning en aanvaarding dat die ander se berou opreg is en die verwagting dat gesonde verhoudings weer gevestig kan word.

Die Geesvervulde gelowige se belangrikse besorgdheid is nie sy seerkry of die onregverdigheid daarvan nie, of dat die ander persoon moet regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie, MAAR DAT EK DIE REGTE GESINDHEID EN OPTREDE SAL Hê IN MY TERUGREAKSIE.

Die Christen wat opregte vergifnis in sy hart ervaar en dit prakties uitleef, sal ‘n blymoedige mens wees, ongeag hoe groot die oortreding van die ander persoon teenoor hom is. Deur vergifnis word die kliënt ‘n medewerker van God in die oortreder se lewe – deurdat hy die liefde, aanvaardign en vrymakende vergewingsgesindheid van God, deur die daad van vergifnis ervaar. Heelhartige vergifnis beteken dat ‘n groter sorg en liefde teenoor die oortreder geopenbaar word na die oortreding, as daarvoor. So kan seerkry deur andere, konstruktief benut word as ‘n geleentheid om Jesus se leifde aan die oortreder te demonstreer.

Diepgaande vergifnis word nie deur kitsoplossings verkry nie – dit is gewoonlik metodes van ontvlugting, vermyding of ontkenning EN NIE VAN VERGIFNIS NIE. Heelhartige vergifnis neem tyd en verloop in opeenvolgende stappe:

  1. Begin om liefdevol uit te reik na die oortreder, erken sy waardigheid en kosbaarheid en kies om selfs dit wat onbegryplik is, te begryp.
  2. Laat die pynlike verlede agter, aanvaar dat die skuldige ook kan verander en sy rug keer op vorige gedragspatrone.
  3. begin werk aan die heropbou van die verhouding – dit is die werklike taak van vergifnis. Neem die pyn van kwetsing tussen julle in oënskou en aanvaar dat die ander se bedoeling ook opreg en eerlik is oppad na genesing en herstel van die verhouding.
  4. Stel jouself opnuut oop vir die toekoms – kanselleer alle woedende aansprake op vergelding vandag en in die toekoms. Aanvaar dat foute herhaal kan word omdat ons feilbaar is maar verseker mekaar van ‘n openhartige en eerlike voorneme en gesindheid, tot voordeel van jul verhouding.
  5. Herbevestig die verhouding – raak mekaar so diep as moontlik aan in die proses van vrystelling van pyn en vier die wedersydse besef en vreugde van die herstelde verhouding. So ‘n binding van hernude aanvaarding en wedersydse bevestiging daarvan stel beide in staat om nuwe betekenis in die verhouding te vind.

Die vergewensgesinde persoon weet dat hy ook vergifnis nodig het as hy in die regte verhouding tot God en sy medemens wil staan (Matt 18:21-35). Om te vergewe, te aanvaar, om ons verhoudings weer reg te stel, weer broers en susters te word, is nie ‘n kwessie van woorde nie. Dit is dade, handeling en gebare van liefde. Dit vereis onvoorwaardelike anvaarding en genoeg omgee vir die ander se seer ervaring, asook onderlinge liefdesdade wat na vergifnis, spontaan uit liefdevolle gedrag voortvloei.

Liefdevolle vergifnis is nie ‘n strategie in eie belang nie. Dit is ‘n leefwyse volgens Jesus se voorbeeld en ons volg dit, nie omdat dit vir ons veiliger is nie, maar omdat dit moreel en volgens Skrifbeginsel reg is, dit is getrou aan die waardes wat volgens ons geloof ewig is.