Die Regterstoel-oordeel
Dit is belangrik dat Christene in hulle geestelike lewe nie net gemotiveer word om eendag hemel toe te gaan nie, maar om nou, in hulle aardse lewens, godvrugtige lewens te lei deur werke te doen wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Die Here gaan hierdie werke ná die wegraping beoordeel en beloon, en in die lig daarvan sal dit duidelik wees wat die waarde van jou lewe in sy koninkryk was. Ons sal verantwoording moet doen oor wat ons met ons talente en geleenthede in die diens van die Here gedoen het.
Petrus sê die tyd is daar dat die oordeel in die huis van die Here moet begin (1 Pet. 4:17). By sy koms sal Christus ons werke beloon (Op.11:18; 22:12). Dit is met die oog hierop dat Christus aan die martelaarsgemeente in Smirna ‘n kroon beloof (Op. 2:10). Aan sy getroue getuies in afvallige Thiatire sê Hy dat hulle saam met Hom sal regeer (Op. 2:25-26). Aan sy diensknegte wat Hom te midde van groot armoede en probleme in Filadelfia dien, sê Hy dat hulle nie moet toelaat dat hulle deur geestelike veragtering hul krone verloor nie (Op. 3:11). Deur hulle volharding tot aan die einde toe moet hulle waardig bly om krone te ontvang (Gal. 6:9; 1 Joh. 2:28; 2 Joh. 1:8). Kinders van die Here het onteenseglik ‘n groot verantwoordelikheid om vir Christus se skielike koms en ons verskyning voor sy regterstoel gereed te wees!
Die afspraak
Alle Christene het ‘n afspraak voor die regterstoel van Christus, of hulle goeie diensknegte was of nie. Sommige sal loon ontvang, terwyl ander met leë hande daar sal staan. Die feit is dat die Here se diensknegte rekenskap van hulleself sal moet gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:10,12). Daar gaan baie werke van gelowiges wees wat op dié dag nutteloos gaan blyk te wees omdat dit geen ewigheidswaarde het nie. Die Here Jesus sê aan elke gemeente in Openbaring: “Ek ken jou werke…” (Op. 2:2,9,13,19; 3:1,8,15). Hy gaan elkeen volgens sy werke vergeld.
Aan die Korinthiërs verduidelik Paulus in veel meer detail hoe die werke van gelowiges aan God se vuurproef onderwerp sal word. Hieruit blyk dit duidelik dat dit geloofswerke is wat ná bekering gedoen word omdat dit op die Rots, Jesus Christus, gebou word. Die werke van sommige Christene sal egter verwerplik wees omdat dit vleeslik is. In die lig hiervan toon Paulus aan dat ons as medewerkers van God ‘n besliste taak het om in sy koninkryk te verrig. Ons moet egter oppas hoe ons dit doen – nie in die krag van die vlees nie, maar in die krag van die Heilige Gees (1 Kor. 3:8-16). ‘n Paar sake is uit dié gedeelte baie duidelik:
- Die fondament van bekering, wat die begin van ‘n nuwe lewe in Christus is, moet éérs in ons lewe gelê word voordat ons vir die Here kan begin werk. Die beoordeling voor die regterstoel is net vir gelowiges wie se lewens op die Rots gebou is.
- Ná ons bekering het ons ‘n opdrag om vir die Here te werk deur ons lig in die wêreld te laat skyn en sy getuies te wees. Ons moet medewerkers van God in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde wees.
- Dit is nie vanselfsprekend dat ons altyd net aanvaarbare werke onder die leiding van die Heilige Gees sal doen nie, omdat ‘n Christen ook nuttelose dinge in die krag van die vlees kan doen (1 Kor. 3:1-3). Dié werke is die hout, hooi en stoppels wat nie ewigheidswaarde het nie en vir God verwerplik is.
- Aan diegene wat onaanvaarbare werke in die vlees doen, word die vraag gevra: “Weet julle nie dat die Gees van God in julle woon nie?” Hulle moet hulle lewens aan die beheer van die Heilige Gees oorgee en in sy krag die Here begin dien. Dit is standaard Christenskap.
Die Here Jesus het in ‘n gelykenis in Lukas 19: 11-27 ook na die dag verwys wanneer sy diensknegte rekenskap van hulle lewens sal moet gee. Hy sê dat Hy aan elkeen van hulle ‘n pond gegee het wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, m.a.w. ‘n godgegewe werksvermoë. Wanneer Hy as Koning terugkom, sal Hy eerste sy diensknegte ontbied om loon toe te ken ooreenkomstig die arbeid wat hulle verrig het. Dié een wat met sy pond tien ponde wins verdien het, word geprys en hy kry gesag oor tien stede (Luk. 19:17). ‘n Ander een kry gesag oor vyf stede, en die een wat sy pond begrawe het en met leë hande voor sy Heer verskyn, word verwyt. Hy kry geen loon nie, alhoewel hy een van sy Heer se diensknegte was.
Die grondslag van beoordeling
Die Here het voor sy regterstoel ‘n afspraak met diegene wat aan Hom behoort. Uit die aard van die saak gaan hulle nie op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van geloof in hulle lewe beoordeel word nie. Hulle is almal uit genade gered, deur die geloof, en dit is ‘n gawe van God. Omdat hulle almal glo, is die grondslag van hulle beoordeling iets anders, nl. werke van geloof. Dit is die werke wat uit ‘n lewende geloof móét voortvloei (Jak. 2: 26).
Paulus stel dit in Efésiërs 2:8-9 duidelik dat ons deur geloof gered word, sonder werke. Niemand kan dus sy saligheid verdien deur daarvoor te werk nie. Redding is ‘n genadegawe van God. Nadat ‘n persoon egter gered is en ‘n gelowige geword het, word dit van hom verwag om ‘n lewe van godsvrug en goeie werke te lei (Ef. 2:10). Die Here gaan ons nie beloon vir dit wat ons vír Hom gedoen het nie, maar net vir dit wat Hy déúr ons gedoen het. Ons is werktuie in sy reddende regterhand. Wat ons doen, moet deur die krag van sy Heilige Gees wees. Ek moet nie my eie kop volg nie, maar die Here raadpleeg en ken in al my weë (Spr. 3:5-6). Die volgende vyf krone word aan die oorwinnaars beloof:
Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe. Die wedloop van die lewe waarin ons is, word met dié van ‘n atleet vergelyk (1 Kor. 9:24-27). Atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet die regte kos. In die wedloop van die lewe moet ons ook geestelik gevoed word en ons van alle skadelike (sondige) gewoontes weerhou wat ons vordering kan vertraag (Heb. 12:1). Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard (2 Kor. 7:1; Ef. 5:18). ‘n Lewe van heiligheid en diensbaarheid vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak (1 Kor. 9:27). Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van glorie nie.
Die kroon van roem vir sielewenners. Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Ons is almal gestuur (Joh. 20:21; Mark. 16:15; Hand. 1:8). Vir diegene wat ander mense na Christus toe lei, word die kroon van roem beloof (1 Thess. 2:19). Dit is ‘n hoë roeping in die koninkryk van die hemel, daarom word sielewenners met skynende sterre vergelyk (Dan. 12:3). Hulle word ook, uit God se oogpunt, as wyse mense beskryf (Spr. 11:30).
Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. Die geestelike versorging en opbouing van die gemeente is ‘n baie belangrike aspek van Christelike dienswerk wat deur die Here self bepaal is. As ‘n herder dit nougeset doen, sal die Here aan hom die kroon van heerlikheid gee (1 Pet. 5:2-4). Weens die groot verval van die laaste dae het getroue en bekwame herders wat die woord van die waarheid reg sny, baie skaars geword. Die meerderheid sal ter wille van populariteit, en ook onder die beïnvloeding van afvallige kollegas, die weg van kompromie volg en ‘n maklike maar valse evangelie verkondig (2 Tim. 4:3-4).
Die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Aan elkeen wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê, word die kroon van die lewe beloof (Op. 2:10). Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou (Luk. 10:3; Joh. 16:33). Hoe ís Christene die afgelope byna 2000 jaar nie in baie lande geminag vervolg, verdryf, bespot en geïntimideer nie. Die Here sal hulle spesiaal beloon. By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle ook beloon word as hulle getrou bly. Daar is baie mense wat gestrem is, of gestremde kinders het, wat siek of verlam is, wat onderdruk, misken of verwerp word, of wat dalk werkloos, arm, honger of sonder huisvesting is. Hulle word almal bemoedig om die geloof te behou en op hulle moeilike weg te volhard. Sommige van hulle kry uitkoms in hierdie lewe en ander nie. Die hoofsaak is dat hulle tot die einde toe getrou moet bly en wag op die volmaaktheid wat ons eendag in die hemel sal hê (2 Kor. 4:16-18; Heb. 11:3-5).
Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet. Om die Here se koms lief te hê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en waar diewe nie inbreek en steel nie. As jy sê dat jy die Here Jesus se koms liefhet, dan sê jy dat Hy jou Koning is, dat jy by die vestiging en uitbreiding van sy koninkryk betrokke is, en dat jy uitsien na die dag wanneer Hy as Koning openbaar sal word. Intussen is jy ‘n vreemdeling en ‘n bywoner op aarde omdat jou ewige tuiste nie hier is nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld gevestig het (2 Tim. 4:7-8). Hy het uitgesien na die kroon wat die regverdige Regter aan hom “in dié dag” sal gee, verwysend na die tyd wanneer die oordele van die Here reeds op aarde begin het. In daardie stadium sal die ware kerk wat die oordele ontvlug het, in die hemel wees en eerste voor die regterstoel van Christus verskyn.
Persoonlike toewyding
Dit is my groot doel in die lewe om die Here wat my as sy getuie uitgestuur het, te behaag deur sy opdragte uit te voer en werke te doen wat by die bekering pas. Tot sy eer wil ek voor die regterstoel krone vir getroue diens ontvang. Ek besef dat ek dit slegs deur die krag van die Heilige Gees kan doen, daarom bid ek om ‘n nuwe salwing deur die Gees van God. Dit is net wanneer Hy my bekragtig, dat ek werke met ewigheidswaarde kan doen. Diens aan die Here word dikwels onder moeilike omstandighede gedoen, maar met die oog op die hemelse beloning word ons nie moedeloos nie (Heb. 11:24-26). Hierdie krone sal weer uit erkentlikheid voor die Lam se voete neergelê word, omdat net Hy waardig is om al die eer te ontvang (Op. 4:10-11). Mag die Here my daarvan bewaar om op daardie dag met leë hande voor Hom te verskyn, omdat dit die bewys van ‘n onvrugbare lewe sal wees.
Vrae
1. Sal ongeredde mense ook voor die regterstoel van Christus verskyn? Gee redes.
2. Watter aspek van die Christen se lewe word voor die regterstoel beoordeel?
3. Waarom is werke ná bekering in ‘n Christen se lewe so belangrik?
4. Vir water krone beywer jy jouself en wat sal die gelowiges later met die krone doen?
5. Wat verwag die Here van die herders van gemeentes?
6. Sal alle Christene krone ontvang? Gee redes vir jou antwoord.
Prof. Johan Malan